Oor die plan

Welkom by Slanker met Sarie

Dis tyd! Dalk het jou dokter gesê jy moet gewig verloor ter wille van jou gesondheid. Dalk is jy moeg daarvoor om ongesond te voel. Dalk is jy pas verloof en wil jy op jou beste lyk op jou groot dag. Dit maak nie saak hoe jy hier uitgekom het nie, ons het goeie nuus. As jy die program en wenke op dié blad getrou volg, hoef jy nooit weer bekommerd te wees oor ongewenste rolletjies – of jou gewig wat soos ’n klimtol op en af beweeg nie.

Slanker met SARIE is wetenskaplik ontwerp om jou te help sodat jy op ’n gesonde en volhoubare manier gewig kan verloor – binne net 12 weke! Die oefenprogram gebruik die minimum toerusting, sodat jy by die huis of by die gim kan oefen. Die maaltye kan aangepas word om by jou begroting te pas en sal jou versadig en gelukkig hou. En die beste van alles? Maak jou reg om resultate te sien!

Ontmoet jou kennerspan

Hierdie vroue weet waarvan hulle praat – hulle kan jou toerus met als wat jy nodig het om jou doelwitte te haal.

Jou afrigter, Aneeka Buys

Aneeka is ’n meesterafrigter en mentor by Virgin Active en was in 2016 ’n finalis in Women’s Health se Fitness Star-kompetisie. Sy het ’n internasionale diploma as spesialis-persoonlike afrigter van die Internations Institute for Sports Science and Fitness Training en ’n internasionale sertifikaat in krag en kondisionering. Sy is gebaseer by Virgin Active Silo District, deel van die ekslusiewe Virgin Active Collection en haar kliënte sluit in bekendes, top- internasionale atlete en besigheidsleiers in die industrie.

Aneeka se benadering tot fiksheid is om bewegings natuurlik, hoog in energie en pret te hou.

“As gevolg van ons leefstyl – waar ons ure lank agter ’n lessenaar of in die motor deurbring – het ons vergeet hoe om in enige ander rigting as vorentoe te beweeg. Dis hoekom ek mal is oor funksionele oefening. Dit berei jou voor – nie net vir jou daaglikse lewe nie, maar ook vir onvoorsiene veg-of-vlug-situasies. Ek hou daarvan om mal, saamgestelde bewegings, pliometriese oefeninge (die eksplosiewe aktiwiteite soos om te spring en te hop) en ’n bietjie hoë intensiteit-interval-oefeninge in te werk, sodat jy beter geaktiveer word – en jou hart woes klop. Dit sorg vir ’n sterk, mobiele lyf wat tot enigiets in staat is. Bonus: die oulike agterent en die bikinilyf-tonus.”

Jou dieetkundige, Carey Anne Seady

Carey het ’n meestersgraad in voeding en dieetkunde van Stellenbosch Universiteit en ’n BSC Med-honneurs in dieetkunde van die Universiteit van Kaapstad. Sy het 13 jaar lank as ’n dieetkundige in ’n private praktyk gewerk, met kliënte wat top-atlete en bekendes insluit.

Carey is tans gebaseer by die Kaapse Instituut van Endokrinologie by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, waar sy die inwonende private dieetkundige is.

Sy is ook besig met haar PhD by Exercise Science and Sports Medicine (ESSM), deel van die Universiteit van Kaapstad. “Ek glo in gebalanseerde eetplanne wat op wetenskaplike beginsels en die individu se hele leefstyl gebaseer is. Ek is ’n voorstander van ’n Mediterreense dieetstyl.”